Plaaslike aandeelfondse het 2009 stewig op ‘n positiewe noot afgesluit met ‘n netto invloei van R10,8 miljard vir die jaar. Dit volg nadat plaaslike beleggers die fondse vir drie agtereenvolgende jare as ‘n bateklas vermy het. Die fondse het in 2006, 2007 en 2008 netto uitvloeie ervaar, terwyl geldmark-, batetoewysings- en vasterentefondse die besliste gunstelinge was Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (ASISA), sê die meerderheid van beleggers het nie baat gevind by die stewige vyfjaarvertoning van aandeelfondse nie aangesien hulle in die grootste gedeelte van die afgelope vyf jaar nie aan aandele blootgestel was nie.

Algemene aandeelfondse het vir die vyf jaar tot 31 Desember 2009 ‘n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 16,2% gelewer. Die geldmark se gemiddelde jaarlikse opbrengs oor vyf jaar het 8,8% beloop. Campher sê beleggers wat dit vroeg verlede jaar gewaag het om terug te beweeg na aandeelfondse, sou baat gevind het by die gemiddelde opbrengste van tussen 20% en 35% vir 2009, afhangende van die fondse wat gekies is. Geldmarkfondse het in vergelyking ‘n gemiddelde opbrengs van 9,5% vir die jaar opgelewer. Die JSE Alle-aandele-indeks (ALSI) het verlede jaar 32% opgelewer en daarmee die FTSE 100 en die S&P 500 in randterme uitgestof.

“Ja, ons het oor die afgelope vyf jaar skouspelagtige wisselvalligheid in die plaaslike aandeelmark beleef, maar die algemene neiging was opwaarts. Ten spyte van die wisselvalligheid het die JSE ALSI oor die afgelope vyf jaar met 119% gegroei met ‘n jaaropbrengs van 17% tot die einde van Desember 2009. “Die enigste benadering wat beleggers in staat sou gestel het om by hierdie groei baat te vind, is tyd in die mark en nie die berekening van tyd in die mark nie.”

Aanhoudende groei
Bates onder bestuur in die Suid-Afrikaanse kollektiewe beleggingskemasbedryf (CIS-bedryf) het teen die einde van 2009 tot R786 miljard gegroei. Dit verteenwoordig ‘n toename van R125 miljard in bates onder bestuur vanaf die R661 miljard aan die einde van Desember 2008. Die bedryf het teen die einde van 2009 altesame 904 fondse beskikbaar gehad.

Campher het bekend gemaak dat ASISA vanaf die einde van die eerste kwartaal van vanjaar vir die eerste keer in staat sal wees om CIS-statistieke te vergelyk wat dubbeltelling heeltemal uitsluit. “ASISA het onlangs ‘n gesofistikeerde nuwe stelsel in werking gestel wat daarop gemik is om enige gevalle van dubbeltelling uit te skakel wanneer vloei en bates onder bestuur in die CIS-bedryf gemeet word. ‘n Mate van dubbeltelling was in die verlede in CIS-statistieke aanwesig. Dit is hoofsaaklik veroorsaak deur hibridiese fondse aangesien sulke fondse in aandele én ander effektetrustfondse belê. Die vorige stelsel was net in staat om dubbeltelling van fondse van fondse te verwyder.”

Met al die dubbeltelling verwyder, het bates onder bestuur in die CIS-bedryf aan die einde van Desember 2009 op R750 miljard te staan gekom – ‘n verskil van R36 miljard of 5% van die totale bates onder bestuur. Campher sê die bedryf sal vanaf die einde van die eerste kwartaal van vanjaar begin om die nuwe statistieke te gebruik vir die doeleindes van kwartaal-op-kwartaal-vergelykings.

Rekord netto invloei
Die CIS-bedryf het in 2009 ‘n netto invloei van R96 miljard ervaar. Die netto kwartaallikse invloei van R24 miljard in die vierde kwartaal van verlede jaar is op drie na die hoogste wat ooit deur die CIS-bedryf behaal is. Die hoogste kwartaallikse netto invloei ooit van R35 miljard is in die tweede kwartaal van verlede jaar behaal. Campher sê die grootste gedeelte van die geld het gevloei na plaaslike batetoewysingsfondse, gevolg deur geldmarkfondse, vasterentefondse en dan plaaslike aandeelfondse.

In 2008 was byna die helfte van alle netto jaarlikse invloeie na geldmarkfondse. In 2009 was die invloei meer gelyk verdeel tussen die grootste fondskategorieë (batetoewysingsfondse, geldmarkfondse, vasterentefondse en aandeelfondse), maar met plaaslike batetoewysingsfondse ‘n duidelike gunsteling. Dié fondse het verlede jaar 31% van die netto jaarlikse vloei gelok, gevolg deur geldmarkfondse met 25,5%, vasterente met 22,1% en aandele met 10,8%.

Plaaslike batetoewysingsfondse belê in die aandeel-, verband-, geld- en eiendomsmarkte met die batebestuurder wat besluit oor hoeveel geld in elke bateklas belê word. Dié fondse het gewild geraak by beleggers én adviseurs aangesien dit diversifikasie oor bateklasse binne een fonds bied, met ‘n kundige fondsbestuurder wat oor die geskikte mengsel besluit. Fondse wat wissel van lae tot hoë aandeelblootstelling is binne die batetoewysingsklas beskikbaar.

Buitelandse diversifisering
Campher sê dat terwyl beleggers nog versigtig aan die terugkeer is na plaaslike aandeelfondse, het beleggers wat verlede jaar buitelandse diversifikasie in hul portefeuljes ingesluit het deur gebruik te maak van die buitelandse geldeenheid-gedenomineerde fondse wat in Suid-Afrika beskikbaar is, voortgegaan om hoofsaaklik in aandele te belê.

Effektetrustfondse in buitelandse geldeenhede is gedenomineer in eenhede soos die dollar, pond, euro en jen en word deur buitelandse effektetrustmaatskappye aangebied. Dié fondse kan net aktief aan Suid-Afrikaanse beleggers bemark word as dit by die FSB geregistreer is. Plaaslike beleggers wat in hierdie fondse wil belê, moet aan die Reserwebank se regulasies voldoen en sal gebruik maak van hul toelae ten opsigte van buitelandse kapitaal wat verlede jaar van R2 miljoen tot R4 miljoen per individu verhoog is. Campher sê die buitelandse CIS-statistieke vir 2009 dui aan dat 69% van bates belê deur Suid-Afrikaners in buitelandse fondse aan aandeelfondse toegewys is. Net 18% van bates is verlede jaar in vasterentefondse belê.

Op 31 Desember 2009 het die totale bates onder bestuur in plaaslik geregistreerde buitelandse fondse op R108 miljard te staan gekom, effens laer as die R114 miljard aan die einde van 2008. Aangevuur deur ‘n sterk rand, het buitelandse fondse egter verlede jaar ‘n rekord netto invloei van R10 miljard ervaar. Dit is die hoogste jaarlikse netto invloei wat ooit deur dié fondse aangeteken is. Terwyl die netto invloei van buitelandse effektetrustfondse verlede jaar betekenisvol toegeneem het, het die vloei na buitelandse effektetrustfondse laag gebly in vergelyking met netto beleggings van R96 miljard in plaaslike effektetrustfondse.

Die getal buitelandse geldeenheid-gedenomineerde fondse te koop in Suid-Afrika het van 382 aan die einde van 2008 tot 372 aan die einde van 2009 afgeneem.

Weergaven: 7

Opmerking

Je moet lid zijn van Nederlandstalige Nieuwsmedia om reacties te kunnen toevoegen!

Wordt lid van Nederlandstalige Nieuwsmedia

koerante/kranten

mondotimes Find News Media Worldwide



Nederlandse Kranten

Belgische Kranten

Surinaamse Kranten

Antilliaanse/Arubaanse Kranten

Suid Afrikaanse Koerante

Namibiese Koerante

Nederlandstalige Kranten (USA/Canada)

Historische Kranten

Regionale Kranten

© 2024   Gemaakt door Nederlandstalige Nieuwsmedia.   Verzorgd door

Een probleem rapporteren?  |  Algemene voorwaarden